|
|
||||||||||||
|
Hierdie blad het meer inligting oor die liedjies van Gideon Kliek op die titel van die lied vir meer inligting, die lirieke en verkorte MP3 lêer. As gevolg van 'n gebrek aan spasie op ons web server is die MP3s helaas net teen 22Khz (swakker kwaliteit) beskikbaar. Hulle is ook verkort om alleen die inleiding, eerste vers en koor weer te gee. Volle MP3s is op versoek beskikbaar teen 44 KHz. Alle liedere op hierdie blad is geskryf deur Gideon van Zyl en die feit dat dit op die Internet gepubliseer is verleen geen regte aan enige gebruiker of leser daarvan nie. As jy die MP3 lêer of lirieke wil gebruik of vir jou sussie of vriend of wieookal wil gee, het ons geen probleem daarmee nie, solank dit nie kommersiëel gebruik word nie. As jy dit op enige manier kommersiëel wil gebruik, neem kontak op met Gideon by gideon@wol.co.za. Kommentaar oor elke lied is deur Gideon.
Ek het die lied geskryf nadat ek gehoor het dat ons na Nederland gaan vertrek. Die lied het aan die een kant my verbondenheid met Afrika probeer uitdruk, maar aan die ander kant my frustrasie met vriende, familie en vreemdes probeer verwoord wat verkeerde persepsies gehad het oor ons vertrek na Nederland. Ons bedoeling was nie om ons Afrikanerskap of ons Afrika-identiteit op te gee nie, maar om op 'n reis te gaan. Hierdie gevoel van verbintenis met en tot Afrika het in Europa selfs verder versterk. Die lied vertel van die verlede en die toekoms/hede. In die eerste vers word grepe uit die geskiedenis - goed en sleg - uitgelig en in die tweede strofe word 'n kykie na Afrika gegee soos hy vandag is - goed en sleg. Die koor vertel van 'n verbintenis met Afrika. Dei verse is verder in 6/8 ritme geskryf terwyl die koor in 4/8 geskryf is. Die verwerking versterk nog die kontras tussen die verse en die koor om ook 'n simboliese verskil te skep tussen Afrika en Europa. Die uiteindelike (hopelik suksesvolle) integrasie van die "Afrika seksie" en die "Europa seksie" verbeeld vir my dan die moontlikheid van integrasie sonder verlies van identiteit. AFRIKADAG - MP3 1. Die ruwe tekstuur
van die langhoring-osse Koor: 2. Noorde en
Suide en Ooste en Weste Herhaal koor
Van my liedere word geskryf uit empatie met die probleme wat mense in hul daaglikse lewe teëkom. In sommige gevalle gebeur ding met mense wat so dramaties en traumaties is dat sommige mense nooit daarvan herstel nie. Een van die dinge wat die meeste trauma vir mense veroorsaak is wanneer hulle 'n werk verloor. Baie keer het die verlies van werk min of niks te make met hoe goed mense hulle werk doen nie. Begrippe soos "afskaling" "rasionalisasie" , "downsizing", "employment equity" en vele meer word gebruik om die beperking van geleenthede of afdankings name te gee. In die lied probeer ek nie om die regverdigheid van die toepassing en gebruik van hierdie begrippe te ondersoek nie - alleen die impak wat dit op mense het. Die mooi woorde vertel niks van die lyding van gewone mense as hulle in konflik kom met die werklikheid daarvan nie. Dr Jan Verschoor is 'n fiktiewe persoon wat as tipe optree van wat baie Suid-Afrikaners in die vroeë 90s deurgegaan het met die rasionalisasie van organisasies soos die AEK, Krygkor, die Onderwysdepartement en vele meer. In die huidige ekonomiese situasie is daar 'n parallel in die grootskaalse afdankings wat wêreldwyd in onder andere die Informasie Tegnologie sektor plaasvind. Ek is dankbaar dat dit nog nooit met my gebeur het nie, maar ek sien die slagoffers hiervan oral om my heen. Meeste mense herstel wel van so 'n terugslag en gaan aan met hul lewens. Ander kom nooit daar deur nie en eindig op as statistieke in gesinsmoorde, selfmoorde of vra jou vir 'n Rand of tien by die Pick 'n Pay. Dr Jan Verschoor - MP3 1. Dr Jan Verschoor PhD
Koor: 2. Dr Jan Verschoor PhD
Herhaal Koor 3. Op die
skouer van die pad
Herhaal Koor
Drome is een van daai liedjies wat amper van self ontstaan. Ek is een van daardie mense wat met die minimum slaap kan klaarkom en baie nagte na die dak lê en staar terwyl ander mense slaap. Dit is nie dat ek moeg is in die oggend wanneer ek wakker word of besonder bekommerd is oor iets nie - ek dink dit is maar hoe my gene my maak. Dit is egter ook een van die beste tye van die dag om kreatief te wees. As almal slaap kan jy lirieke rondrol in jou kop en hulle bou tot by die punt waar alles in jou kop leef nog voor jy 'n woord neergeskryf het op papier. Drome - MP3 1. Diep in die stilte
van die nag Koor: 2. Ek sien die skadu's
teen die muur Koor:
Daar is 'n ou Chinese vloek wat jou toewens dat jy in interessante tye moet leef. In Suid-Afrika beleef ons nou interessante dinge. Ten spyte van al die negatiewe dinge om ons, het ons hoop en het ons lewe en die wie in moeilike tye lewe staan byna altyd in die geskiedenis uit as sterk generasies. Hierdie lied lyk miskien negatief op die eerste oogopslag omdat soveel negatiewe dinge genoem word. In werklikheid dryf dit so 'n bietjie die spot met al die gesprekke wat ons om die braaivleisvure, by die OOV vergaderings, op die golfbaan en op die werkplek hoor. Daar was al die jare baie gesê oor die boere wat nooit tevrede is met wat om hulle gebeur nie. Dit is eintlik maar die geval met die Afrikaner as 'n geheel. Ten spyte daarvan het die Afrikaner altyd oorleef en is ek oortuig dat hy altyd sal oorleef. Dit is eenvoudig nie in ons bloed om op te gee nie. Ek het nog my lewe - MP3 1. O ek sit hier en
skryf 'n kommunikasie Koor:
"I want to declare" is ‘n voorbeeld van die Engelstalige liedjies wat ek geskryf het. Tot 1997 het ek min in Afrikaans geskryf omdat ek gedeeltelik gevoel het dat Engels gemakliker skryf en gedeeltelik omdat die kommersiële gedeelte van my brein aan my gedikteer het dat jy 'n groter gehoor het met Engelse musiek. Ons is "after all" maar so 5 of 6 miljoen mense in die hele wêreld wat Afrikaans kan praat waarvan daar miskien 2 of 3 miljoen is wat dit interessant sal vind om Afrikaanse musiek te koop of luister. In 1997 het ek besluit dat ek nou te oud word om bekommerd te wees oor wat verkoop of nie, en dat ek miskien moet skryf soos my hart praat. Hierdie lied is in 1995 geskryf toe ek sê maar in my laat Engelse fase was en nog ernstig gedink het dat ek ooit 'n lewe kan maak uit musiek. In die tyd het ek installasies gedoen vir die besigheid vir wie ek gewerk het en het baie tyd in hotelle oral in Suid-Afrika spandeer. Ek is nou nie eitlik iemand wat baie goed daarmee is om alleen te wees nie, en as ek so ver van die huis is, verlang ek vreeslik na Susan en die kinders. Om die tyd so 'n bietjie vinniger te laat verbygaan neem ek dan maar altyd 'n paar boeke saam om te lees en natuurlik my kitaar om te speel en skryf as die inspirasie my beetpak. Hoewel die lied vierkantig in die kategorie van "kommersiële soetsappige ballade" val, voel ek tog dat dit die moeite werd is om hier te lys. I want to declare - MP3 1. I lie awake in this
old hotel room 2. I read a book and
watched the TV Repeat Chorus Bridge: Repeat Chorus
Hierdie is een van my gunsteling liedere omdat so naby aan my lê. Die lied gaan oor die skeppingsproses van 'n lied. Elke lied gebeur op 'n ander manier en elke lied is anders. Hierdie lied ondersoek van die konflikte wat ek (en ek glo ook ander liedjieskrywers) deurgaan in die skepping van 'n lied. Volgens my skryf mense of vir hulself of vir 'n gehoor. Die uitdaging is nie om vir jouself te skryf nie, want dan is dit in kern 'n soeke na selfgratifikasie en hoef jy niemand anders in ag te neem nie. Dit is maklik omdat jy jouself dan eenvoudig kan voordoen as hierdie diep, kunssinnige mens wat deur niemand verstaan word nie. Hoe onsinniger die musiek en liriek hoe beter, want die versugting na onbegrip beteken ek kan enigiets op papier sit en binne 'n uur - sonder nadenke of 'n poging om iets spesiaals te maak - 'n lied kan skryf en sommer nog in die studio opneem ook. Om vir die massa gehoor te skryf is ook nie so moeilik nie. Jy hoef maar na die top 40 te luister en jy kan binne 'n uur met moderne tegnologie iets aanmekaar timmer wat gaan verkoop. Die uitdaging is om iets te skryf wat jouself die satisfaksie gee dat jy iets geskep het wat vir jouself lewe en ook vir die gehoor lewe. Vir my is die perfekte lied 'n lied wat vir my betekenis het en aan my behoefte om iets spesiaals te maak uiting kan gee, maar waarmee ek ook 'n gehoor gevange kan neem met wat ek te vertel het. Dus is die ideale lied vir my een wat ek vir myself skryf en vir ander mense. 'n Verdere stryd wat ek ondersoek is die integrasie van musiek en liriek. Musiek sê op sig al reeds iets. Musiek skep sfeer en die betekenis van liriek gaan verlore in onoordeelkundige geskrewe musiek. Te gelykertyd skep die wiskunde wat musiek beheer 'n relatiewe rigiede raamwerk waarin jy jou lirieke kan skryf. Vir elke stuk musiek is daar 'n liriek wat dit meer betekenis kan gee, maar vir elke liriek is daar nie noodwendig musiek wat dit kan toelig nie. Die kuns is om binne die orde van die reëls van musiek die potensiële chaos van liriek te kan tem sonder om die gees daarvan te breek. Ek is oortuig dat sommige hierdie lied as pretensieus sal ervaar, maar die simmetrie van die lied is vir my so mooi dat ek nie regtig omgee wat mense van dink nie. Hierdie selfsug neutraliseer daarmee miskien die boodskap wat hy wil uitdra met die lied. Wees julle maar die jurie. Liriek - MP3 1. Sal ek nou 'n
loflied bou Koor: 2. Sal ek inspirasie
vind
Ek smag na die dag wat ek kan luister na wat iemand sê en weet dat wat hulle vertel dit is wat hulle wil sê. Ek droom van die dag wat iemand optree soos hulle voel hulle moet optree eerder dan optree soos hulle dink mense van hulle verwag. Daarmee wil ek nie sê dat ek wil dat mense moet mal gaan sonder om ander in ag te neem nie - ek wil alleen hoop op meer eerlikheid en deursigtigheid. Ek verstaan egter waarom dit gebeur. Mense beteken die ondergang van mense. Elke terugslag wat iemand beleef het die potensiaal om maskers te maak. Elke kontak wat iemand het met 'n ander persoon, het die potensiaal om hul seer te maak. Wat mense nie besef nie, is dat jy nooit gelukkig kan wees in jouself as jy die heeltyd 'n masker dra nie. As jy 'n masker dra weet niemand anders wie jy is nie, en gaan hul jou weer misverstaan omdat jou aksies en jou voorgee nie ooreenstem nie. Dus lei dit tot meer misverstande en dieper ongelukkigheid. Al manier om dit te bowe te kom is deur doelbewus jouself te wees - die masker weg te haal. Daar sal nog steeds mense wees wat jou seermaak, maar die feit dat hy geen masker dra nie laat jou toe om dit te verwerk en aan te gaan omdat die positiewe resultaat van jou deursigtigheid die negatiewe ver sal oordonder. Maskers - MP3 1. Waar is jy nou Koor: 2. Kan jy onthou Herhaal koor
Hier is nog ‘n Engelstalige lied. Ten spyte van my behoefte om mense om my te hê, het die leegtes 'n groot aantrekkingskrag vir my. Een van die plekke wat my geraak het met sy grootheid en grootsheid is ons buurland Namibië. As ek wil alleen wees is dit die soort plekke wat my roep. Daar kan jy die druk van die moderne lewe vergeet en eenvoudig een wees met die natuur. Ek het hierdie lied in 1985 al geskryf, maar dit het om verskeie redes nooit 'n plek gekry in my repertoir nie. Een rede was die feit dat baie van ons mede Suid-Afrikaners nog steeds tot onlangs aan Namibië gedink het as Suidwes Afrika en hulself nog steeds nie kon vereenselwig met die veranderings daar nie. Ek dink dat daardie era nou verby is en volgens my is dit tyd om iets met hierdie lied te doen. Namibia - MP3 Where the desert sun Chorus: 2. Where the rotting
jungle of concrete towers surround you Repeat Chorus
Die oorspronklike doel van hierdie lied was om die grense van wat moontlik is in Afrikaans te verken. Ek wou iets met 'n Latyns-Amerikaanse of jazzerige geurtjie skryf met sommer net leeghoofdige woorde om te kyk of dit kan gedoen word. Die uiteindelike resultaat was iets nog steeds Latyns-Amerikaans met 'n jazzerige geurtjie aan, maar my poging het tog 'n liriek opgelewer. Ek het vir die grootste gedeelte van my werkende lewe meer dan 50 Kilometer na my werk gery oor van die besigste paaie in Suid-Afrika en Europa. Daar word jy gou net nog een van die mense wat in die verkeer sit en hoop dat die reën sal ophou of dat daar nie 'n ongeluk voor êrens in die pad is nie of dat jy nie een van die ongeluksyfers word nie. Hierdie lied neem 'n ligte kyk na die ironiese resultaat van moderne kapitalisme. Die gemiddelde persoon in 'n moderne kapitalistiese staat strewe om meer geld te versamel om sy lewe te verbeter sodat hy kan uitstyg uit die massas en sy uniekheid kan bevestig deur dit wat hy doen met sy geld. In die gejaag daarna word hy helaas presies net dit waarvan hy probeer om van te ontvlug - net 'n nommer. Net 'n nommer - MP3 1. Ek hoor die wekker
raas Koor: Herhaal Koor
Ek dink julle ken hom/haar almal. Jy kry hulle orals in die samelewing. Mense wat probeer om hul "morele meerderwaardigheid" te bewerkstellig - alleen om dit te misbruik om te manipuleer en hul sin te kry. Hulle raak betrokke by die bestuur van kerke, kultuurorganisasies en besighede vir alleen een rede, en dit is om hulself te laat belangrik voel. Deur die eeue heen was daar baie soortgelyke mense, en hulle het gesamentlik 'n redelike groot bydrae gelewer tot politieke en godsdienstige vervolgings, oorloë, rusies en tweespalt. Gelukkig het baie van hulle ook die pad na Damaskus betree en was óf blind daarna, óf anders. Op 'n punt van orde - MP3 Ek sien jou in die
oggenddiens Koor: 2. Net op 'n punt van
orde Herhaal Koor Koor 2: Toe ek nog op skool was, het almal aan my vertel dat die hele wêreld ooplê vir jou as jy hard werk om jouself te verbeter en getrou is in wat jou doen. So word daar reeds op 'n jong leeftyd verwagtings by mense geskep oor hoe suksesvol hulle as volwassenes gaan wees. Die hele advertensiewese is verder daarop gemik om ons te laat weet dat alles maklik is, as jy nét dít doen of dát koop. As jy 150 kg weeg en jy drink net hierdie melkskommel of gebruik hierdie oefenmasjien dan sal jy gou-gou so maer wees dat jy soos een van die supermodelle in die advertensie gaan lyk. Hoeveel mense ken julle met tientalle oefenapparate wat in die motorhuis opgeberg is? Hoeveel kitsdiëte het jy al gevolg omdat dit kwansuis sou werk? Ek is dom genoeg om elke keer vir sulke foefies te val. Ek is my hele lewe lank besig om finansiële sukses te bereik, om gewig te verloor, om 'n vinniger rekenaar te kry - ek is net so veel 'n slagoffer van ons gebruikerssamelewing as wie dan ookal. Ek sien dit, ek weet dit, maar hierdie resies is een waar jy nie sommer kan uitklim nie. Uiteindelik moet ek myself leer (en is ek hopelik besig om te leer) dat alles in die lewe wat die moeite werd is alleen met tyd, sweet en trane kom. Tyd en Trane - MP3 In my gedagtewêreld Koor: 2. Sien jy ons
samelewing Herhaal Koor
|
||||||||||||